Besnydenis-dodetal op 33
2010-06-24 11:00
Oos-Kaap – Nog ‘n seun het gesterf nadat hy onwettig besny is tydens ‘n tradisionele seremonie by ‘n inisiasie-skool in die Oos-Kaap, het die plaaslike departement van gesondheid Donderdag gesê.
Dít bring die dodetal vir hierdie winter se seremoniële besnydenisse op 33 te staan.
Sizwe Kupelo van die departement gesondheid was Donderdagoggend onderweg na die Moyeni-informele nedersetting waar ‘n jong seun gesterf het.
“Ons was verlede week by die nedersetting en die inwoners het die seuns weggesteek. Nou bel hulle ons nadat een reeds gesterf het,” het Kupelo gesê.
“Dit is baie ontstellend en onnodig. Ons kon die seun gered het.”
Ná ‘n klopjag verlede by die skool kon die departement slegs daarin slaag om een seun te red. Hy sterk steeds in die hospitaal aan.
Nóg twee seuns het Woensdag in Machibi gesterf en ‘n derde in die Lusikisiki-area.
‘n Groot getal slagoffers word ook in plaaslike hospitale behandel nadat hulle besnydenisse misluk het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA