Advertensie-besluit 'ysingwekkend' – Zille
2013-01-29 13:37
Kaapstad – Die DA-leier Helen Zille het Dinsdag skerp kritiek gelewer op die manier waarop die ANC gereageer het op 'n omstrede advertensie-veldtog van Eerste Nasionale Bank (FNB).
Die bank se You Can Help-veldtog, wat bestaan het uit verskeie video’s van kinders in skooluniforms wat hulle hoop vir die land uitspreek, is onttrek ná die ANC kapsie gemaak het omdat dit ook kritiek teen die regering ingesluit het.
"As gevolg daarvan het 'n woedende ANC volgens berigte gedreig om nie meer van die regering se sake met FNB te doen nie. Hierdie dreigement is opsigself onaanvaarbaar want dit bevestig dat die ANC besluit wie kry regeringskontrakte," het Zille in 'n verklaring gesê.
Sizwe Nxasana, FNB se voorsitter, het die ANC later om verskoning gevra oor die veldtog.
"Wat FNB betref – een van hulle verskonings om die advertensies te onttrek is om die kinders wat betrokke is, te beskerm. As FNB rede het om bekommerd te wees oor die veiligheid van die kinders, wat sê dit oor Suid-Afrika en die ANC? Dis waarlik ysingwekkend," het Zille luidens die verklaring gesê.
Mmuse Maimane, woordvoerder van die DA, het Vrydag kort ná Nxsana om verskoning gevra het, gesê FNB stuur op dié manier ‘n boodskap aan maatskappye uit dat dit nie aanvaarbaar is om die regerende party te kritiseer of te bevraagteken nie.
“Deur dit te doen [deur verskoning te vra] het hy gewys dat dit aanvaarbaar is om deur die regerende party geboelie te word en dit het vir die ANC gewys dat sy taktieke werk om kritiese stemme stil te maak,” het die verklaring gelui.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24