Beskadigde brug se herstel kan maande lank duur
2012-02-07 07:06
Port Elizabeth – Oos-Kapenaars op pad na Bloemfontein sal hul roete fyn moet beplan noudat slegs sekere voertuie oor ’n brug by Aliwal-Noord toegelaat word.
Die Generaal Hertzog-brug, op die N6 deur Aliwal-Noord, is een van die hoofpaaie wat motoriste oor die Oranjerivier kan neem.
Dié brug se struktuur is Saterdag beskadig toe twee vragmotors gebots en die kante van die brug getref het.
“Ingenieurs van Bloemfontein en Pretoria is na die toneel ontbied om die skade te bereken. Hulle het beslis die brug sal voorlopig vir vragmotors gesluit moet word,” het kapt. John Fobian van die polisie se rampbestuur Maandag gesê.
Sisanda George, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van paaie en openbare werke, het gesê die presiese koste om die brug te herstel moet nog bereken word.
“Ons wil so gou as moontlik die brug herstel sodat motors dit ten minste kan gebruik. Dit sal egter veel langer wees voordat vragmotors dit kan oorsteek.”
Ingenieurs skat die voorlopige skade aan die brug beloop sowat R44 miljoen, volgens Fobian.
“Baie van die staal en strukturele onderdele sal vanuit Europa ingevoer moet word.
“Die herstelwerk kan glo tot ses maande neem voordat dit voltooi is.”
Intussen sal motoriste moet navraag doen om vas te stel of hulle die brug mag oorsteek.
Swaar voertuie kan van Aliwal-Noord die R58 na Burgersdorp neem en van daar na Venterstad draai. Om Aliwal-Noord te vermy, raai Fobian motoriste aan om eerder na Steynsburg te reis en van daar die R390 na Venterstad te neem.
“Dit kan ’n tydjie duur. Ons vra die publiek se geduld en samewerking,” het Fobian gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld