Beseerde renoster vrek in wildreservaat
2011-08-25 10:09
Kaapstad – Die erg beseerde witrenoster, een van drie wat die afgelope naweek deur wildstropers in die Aquila-wildreservaat naby Touwsrivier aangeval is, het gevrek.
"Dit is een van die moeilikste dinge wat ek nog ooit moes doen. Ek het pas bevestiging van die veearts in die veld gekry. Absa het dit nie deur die nag gemaak nie. Hy het vroeg vanoggend (Donderdag) heen gegaan. Rus nou in vrede my vriend," het Searl Derman, eienaar, op die Aquila-wildreservaat se Facebook-blad geskryf.
Absa kon Dinsdag nie nog nie op sy eie opstaan nie, het Die Burger vroeër berig.
Een van sy horings is heeltemal afgesaag en die ander een halfpad. Hy is bebloed in die veld agtergelaat.
'n Tweede renoster is met 'n pyl in sy skouer aangetref, maar is verder ongedeerd.
Die erg verminkte karkas van 'n derde renoster is ook in die reservaat gevind. Die horings van dié renoster is glo met 'n panga afgekap.
Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24