Bernadine-saak: Taximan kry 12 jaar
2009-09-17 16:10
Pretoria – Die taxibestuurder, Percyval Matji, is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy Bernadine Kruger voor haar skool doodgery het.
Landdros Edmund Patterson het Matji se optrede die dag van die ongeluk as “aaklig” beskryf.
“Jou optrede kan nie geregverdig of goedgekeur word nie,” het Patterson gesê kort voor die vonnis bekendgemaak is.
Matji het Kruger in Februarie doodgery toe sy op haar bromponie op pad skool toe was in Garsfontein. Hy het in haar vasgejaag en met sy voorwiel bo-oor haar gery. Sy is opslag dood.
Hy is ‘n week gelede aan haar moord skuldig bevind. Patterson het ook gesê dat Matji geen berou tydens die verloop van die hofsaak getoon het nie.
Dit was net sy moeder, Celi Mahlangu, wat hartseer gelyk het oor die voorval. Sy het haar seun as ‘n goeie kind beskryf wat altyd bereid was om sy gemeenskap te help.
Volgens Patterson is die vonnis nie om Matji te straf nie, maar eerder om ander te waarsku wat roekeloos bestuur en onskuldige mense se lewens in gevaar stel.
Matji se bestuurderslisensie is ook teruggetrek.
–Sapa