Bergpiek dalk na Mandela genoem
2011-03-12 08:22
Durban – As beelde van Amerikaanse presidente in die berg Rushmore uitgekap kan word, waarom nie een van die pieke in die Drakensberg na oudpres. Nelson Mandela noem nie?
Dié voorstel van John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoorskool, dat Cathkin Peak na Mandela genoem word, het die KwaZulu-Natalse Middelland aan die gons.
Mandela het in 1995 ’n optrede van die koor op die 3 149 m hoë Cathkin Peak bygewoon ter viering van die lugmag se 75ste bestaansjaar. Die skool is voor die skilderagtige Cathkin- en Sterkhorn-piek geleë.
Tungay wil met die vernoeming van ’n piek in die Drakensberge nasiebou en nasionale eenheid bevorder. “Mandela is ’n simbool van iets wat veel beter is as wat ons op die oomblik kry. Ons is nie ’n Reënboognasie nie.”
Sy voorstel word uit talle oorde gekritiseer. Tungay het aanvanklik gedink een van die spitse van die Sterkhorn kan na die politieke ikoon genoem word, maar het teëspoed gekry van die Memorable Order of the Tin Hat, die oudstryderorganisasie wat die piek Mount Memory noem.
Die Drakensbergse Seunskoorskool het in sy reaksie gesê die Mandela-familie het gevra dat Madiba met rus gelaat word.
“Ons het nie ’n berg nodig om nasionale eenheid te bevorder nie, maar dit het ’n baie spesiale man geverg om die proses te begin,” het Duke Louw, voorsitter van die skool se beheerliggaam, gesê.
Tungay het gesê hy het al verskeie weeshuise gebou, ondersteun ’n organisasie wat vroue op die platteland help en het verskeie skole gehelp om hul slaagsyfer van byvoorbeeld 45% tot 98% op te stoot.
“Misdaad veroorsaak ’n kloof tussen mense. Een van die eerste dinge wat ons behoort te doen is om mense te wys dat ons iets wíl bereik,” het Tungay gesê.
Jeff Gaisford, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsdienste, het gesê die hernoeming van ’n piek in dié wêrelderfenisgebied sal aan ’n proses van openbare deelname, moontlik wêreldwyd, onderwerp moet word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld