Berading vir meisies by Oprah-skool
2011-02-21 13:12
Johannesburg – Die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls by Henley-on-Klip duskant Vereeniging, het beradingsdienste vir leerders aangebied nadat 'n pasgebore baba verlede week by dié skool gevind is.
"Ons wag vir die uitkoms van die polisie-ondersoek, terwyl die leerder se privaatheid beskerm en respekteer word," het Oprah Winfrey se Harpo Communications in 'n verklaring gesê.
"Die Academy streef daarna om die gesondheid en welstand van al die leerders te verseker en verskaf beradingsdienste waar nodig."
Die lyk van 'n pasgebore baba is gevind nadat 'n 17-jarige meisie Woensdag gekraam het, het die polisie in Gauteng verlede week gesê.
Die polisie weet nie hoe die kind dood is nie.
"Ja, die meisie het by die skool gekraam, maar ons kan nie bevestig wat met die kind gebeur het nie. 'n Saak van verberging van 'n swangerskap word ondersoek," het kapt. Shado Mashobane gesê.
Die 17-jarige meisie, wat 'n leerder aan die skool buite Johannesburg is, is na die Midvaal-hospitaal in Meyerton geneem.
Beeld het Vrydag berig dat die kind se lyk in 'n plastieksak met bebloede klere gevind en na 'n hospitaal geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA