Bende vermoor egpaar oor 'heksery'
2012-01-12 09:51
Durban – ‘n Bende het ‘n bejaarde egpaar aan die brand gesteek ná die man en sy vrou van heksery in Lindelani, naby Ntuzuma, beskuldig is, het die KwaZulu-Natalse polisie Donderdag gesê.
Kapt. Thulani Zwane sê die polisie is Woensdagoggend om 01:00 geskakel aangesien ‘n huis aan die brand was.
Volgens Zwane is Elsa Dubazane (60) dood in haar slaapkamer aangetref en haar 66-jarige man, Rafael Dubazane, se lyk is in hul straat gevind.
Hy sê die polisie ondersoek ‘n saak van moord. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
The Mercury berig dat die egpaar Vrydag deur ‘n bende aangeval en aangerand is. Die bende het die Dubazane-egpaar daarvan beskuldig dat hulle hul kleindogter, Zakude Shozi (16), vermoor en begrawe het.
“Hul kleindogter het op 4 Januarie in die Mahatma Gandhi-hospitaal gesterf. Sy het ‘n oordosis pille geneem aangesien sy familie-probleme gehad het,” het Zwane gesê.
Zwane sê die polisie wag vir die uitslae van die nadoodse ondersoek aangesien daar bewerings is dat Shozi deur haar ouma of haar pa geslaan is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA