Bende vas ná Germiston-rooftog
2011-09-19 17:58
Johannesburg – Sewe mans is in hegtenis geneem in verband met ‘n rooftog by ‘n onderneming in Germiston, Johannesburg, het die Ekurhuleni-metropolisie Maandag gesê.
Die polisie het die mans Sondagnag vasgetrek by ‘n huis wat hulle dopgehou het, het Wilfred Kgasago, woordvoerder, gesê.
“Hulle het beslag gelê op sewe selfone en vier vuurwapens, waarvan die reeksnommers afgevyl was,” het hy gesê.
Volgens Kagasago is die mans na bewering lede van ‘n groep wat Vrydag ‘n kitskos-winkel in Germiston aan die Oos-Rand beroof het.
Nege mans het die winkel omstreeks 16:00 binnegegaan en die kassiere van R5 500 beroof. Verskeie klante is ook van kontant, selfone en waardevolle items beroof.
Die mans, tussen die ouderdomme van 25 en 35, sal na verwagting Dinsdag in die Germiston-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA