Bende rowers slaan toe op casino
2010-03-05 06:56
Buks Viljoen
Johannesburg - ’n Groot roofbende het ’n gas by die Graceland-casino in Secunda doodgeskiet en ’n polisieman en ’n polisiereservis gewond.
Gitrath Banda (44), wat in Johannesburg woon en in Secunda werk, is agter die stuur van sy BMW doodgeskiet toe hy by die kompleks ingery het.
’n Bende van sowat 17 rowers, gewapen met handwapens en AK47’s, het eergister omstreeks 22:00 op die casino toegeslaan.
Die rowers het die veiligheidswagte buite die kompleks oorrompel. Terwyl sommige buite waggehou het, het die ander by die dobbelhuis, waar sowat 300 gaste was, ingestorm.
Hulle kon blykbaar nie toegang tot die brandkluis kry nie en het die gaste gedwing om op die vloer te lê.
Verskeie skote is in die casino geskiet. Een van die koeëls het ’n waterpyp van die brandbestrydingstelsel getref en ’n dik straal water het uitgespuit. Selfone, juwele en kontant is van die vreesbevange gaste geroof.
Van die bendelede kon daarin slaag om ’n paar sakke met muntstukke van sowat R35 000 in die casino te buit.
Toe die rowers vlug, het hulle voor die casino ’n BMW gekaap en daarmee, asook met ’n Toyota-bakkie en ’n Audi A4, weggejaag. ’n Skietgeveg het by die hoofhek tussen die rowers en die polisie uitgebreek. Banda is toe raak geskiet. Hy is agter sy motor se stuurwiel dood.
Kapt. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, het gesê Banda is waarskynlik geskiet omdat die rowers ook sy voertuig wou kaap.
In die oor-en-weer-skietery is reserviskonst. Ines van Coller en konst. N.E. Wiso ook gewond.
Van Coller is in die regterenkel en linkerlies getref. ’n Koeël het in die hoofslagaar in sy lies vasgeslaan. Hy het gister ’n noodoperasie in die Medi-Clinic-harthospitaal in Pretoria ondergaan waar die koeël verwyder is.
Van Coller se vrou, Ena, het gesê haar man is buite gevaar, maar het erge pyn.
Wiso is in die linkerbeen getref. Hy word in die Trichardt-Medi-Clinic behandel.
Dit is die tweede keer in vyf maande dat Van Coller tydens ’n rooftog raak geskiet is. In Oktober is hy in die rug geskiet. Hy het sy koeëlvaste baadjie aangehad en die koeël het daarin vasgeslaan.
Kort ná die rooftog eergisternag het die polisie op die Audi en BMW afgekom waar dit verlate naby die pad tussen Embalenhle en Secunda gestaan het. Die sakke vol munte is in die bosse langs die pad gekry waar dit versteek is.
Die bakkie, wat vroeër in Pretoria gesteel is, is sowat 10km van die casino naby Evander gekry.
Julie van Wyk, woordvoerder van die Peermont-groep, wat Graceland besit, het gesê geen gas is beseer nie.
Beeld het betroubaar verneem van die verdagtes is reeds uitgeken, maar Hlathi het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die Graceland-casino is in Januarie 2006 ook deur ’n bende van sowat R650 000 beroof.
- Beeld