Bende kom met miljoene weg
2011-08-02 23:07
Kaapstad – Gewapende bendelede het miljoene rande se
kontant by ‘n sekuriteitsfirma in Brackenfell, Kaapstad, gesteel.
Die maatskappy sou die geld by verskeie banke in Kaapstad aflewer.
“Agt mans het in ‘n wit Ford Bantam-bakkie by
die firma se perseel in Brackenfell opgedaag en gesê hulle is daar om
voertuig-onderdele af te lewer,” het ‘n woordvoerder vir die Valke, McIntosh
Polela, gesê.
‘n Personeellid het die buitenste hek
oopgemaak, waarna een van die rowers ‘n geweer te voorskyn gebring het en hom
gedwing het om die binneste hek ook oop te maak,” het Polela gesê.
‘n Tweede groep rowers in ‘n Toyota
Quantum-minibus het agter hulle aan by die binneste hek ingery.
“Die gewapende mans, almal met balaklawas en
handskoene aan, het by die wapenkamer ingebreek.
“Hulle het probeer om die CCTV-kameras af te
sit,” het Polela gesê.
Die rowers het daarin geslaag om by die
hoof-kluis in te breek en 'n deur agter in die kluis wat na die laaigebied lei, oopgemaak.
Daarna het hulle sakke vol geld in hul
voertuie gelaai, het Polela gesê.
Intussen is die agt veiligheidswagte vasgebind.
Hul selfone is gesteel en een van hulle se
geweer is ook afgevat.
“Ná die
voorval het een van die personeellede daarin geslaag om homself te bevry en die
alarm geaktiveer,” het Polela gesê.
Volgens Polela is die bakkie sowel as twee
sakke geld in ‘n nabygeleë veld gevind.
Die Toyota is in Mitchell’s Plein opgespoor.
Volg Nuus24 op Twitter.