Bende in polisieklere beroof blitspatrollie
2011-08-16 09:04
Nelspruit. – Lede van die polisie se blitspatrollie in dié stad is van hul wapens beroof deur ’n bende wat onder meer polisie-uniforms gedra het.
Die bende van ses rowers, van wie sommige ook uniforms van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gedra het, het Sondag omstreeks 15:00 by die Rong Qiang Store in Andersonstraat ingekom.
Die blitspatrollielede het minute tevore dieselfde winkel aangedoen om ’n flitslig te koop.
Die rowers, gewapen met handwapens, asook ’n R5-geweer, het die winkeleienaar en sy personeel aangehou onder die voorwendsel dat hulle hul verblyfpermitte wil ondersoek.
Terwyl die eienaar paspoorte gaan haal het, het hy die blitspatrollielede wat kort tevore in die winkel was, gebel.
Die rowers het met R48 000, selfone en die opnemer van die veiligheidskameras uit die winkel gevlug.
Van hulle het in ’n Ford Territory weggejaag.
Toe die blitspatrollie daar opdaag, het vier ander rowers uit ’n wit Nissan Almera wat voor die winkel gestaan het, gespring.
Die rowers het die polisiemanne van hul dienspistole en ’n R5-geweer beroof en die mikrofoonkabel van die polisiemotor se radio afgesny voordat hulle gevlug het. Niemand is beseer nie.
’n Klag van gewapende roof word ondersoek, het lt.kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld