"Bemagtig onafhanklike krag-voorsieners dringend"
2010-01-21 16:39
Die Energie-intensiewe verbruikersforum wil hê dat 'n groep onafhanklike kragvoorsieners bemagtig moet word om 'n groter energiekrisis in die land te versag.
Die voorsitter van die groep, Ian Langridge, het by die Energiereguleerder se openbare sitting in Midrand gesê in die stadium is daar 'n vyandige houding jeens onafhanklike kragprodusente.
Langridge sê korttermynmaatreëls moet dringend opgestel word en onafhanklike produsente kan baie daarmee help.
Hy het aangevoer dat selfs al word 'n 35% verhoging aan Eskom toegestaan kan die kragvoorsiener steeds nie doeltreffend funksioneer nie.
Langridge sê die Geïntegreerde Hulpbronne Plan in sy huidige vorm is nie voldoende om Nersa in staat te stel om 'n rasionele koste-bepaling te doen nie.
- Die Burger