'Belowende leerling' 20 jaar tronk toe
2011-08-16 19:56
Johannesburg – ‘n Een-en-twintig-jarige man is Dinsdag 20 jaar gevangenisstraf opgelê in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg.
Regter Anton van Zyl het gesê dat, deur by ‘n bende aan te sluit wat by huise ingebreek en pensioenarisse beroof het, Mazwi Hlongwa ‘n geleentheid om ‘n tersiêre opvoeding te kry, vermors het.
Hlongwa se voormalige skoolhoof het aangebied om vir hom te betaal om ‘n kursus by ‘n technikon te voltooi. Dit dui daarop dat hy belofte getoon het.
Van Zyl het gesê Hlongwa het, deur met skool klaar te maak, die nadele van grootword in armoede oorbrug.
Hlongwa, wat reeds 19 maande in aanhouding was sedert sy inhegtenisneming, het skuldig gepleit op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Hy het die pensioenaris Victoria Malewu gesteek toe sy nie geld of waardevolle items vir die bende wou gee in Januarie verlede jaar nie.
Sy het twee dae later aan haar wonde beswyk.
Hy het ook beken hy het by die huis van Malewu se buurvrou, die pensioenaris Mantombi Khumalo, ingebreek en haar van geld, haar ID-dokument en haar pensioenaris-kredietkaart beroof.
Van Zyl het bevind dat Hlongwa berou getoon het deur skuldig te pleit en in te stem om vir die staat te getuig in die verhoor van sy voormalige mede-bendelede, wat onskuldig gepleit het.
Hlongwa is twee vonnisse van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en ‘n vonnis van 20 jaar vir die moord opgelê. Die tronkstraf word samelopend uitgedien. Hy sal ná 12 jaar in aanmerking vir parool kom.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA