Belastingbetalers gaan hoes vir Cele
2011-11-21 09:03
Johannesburg – Belastingbetalers gaan minstens R1,3 miljoen per jaar moet opdok vir die geskorste polisiehoof, genl. Bheki Cele, se salaris.
’n Polisiewoordvoerder, kol. Tummi Shai, het gesê die nasionale polisiekommissaris se salaris is tussen R1,3 miljoen en R1,5 miljoen per jaar, luidens die Sunday Tribune.
Cele is op 24 Oktober met sy volle salaris geskors vir sy vermeende rol in twee omstrede polisie-huurooreenkomste met ’n waarde van R1,6 miljard, hangende die bevindinge van ’n kommissie wat die saak ondersoek.
Na verwagting sal Cele se regskoste ook miljoene rande beloop.
Luidens die berig het belastingbetalers reeds meer as R30 miljoen bestee aan die regskoste van Cele se voorganger, Jackie Selebi. Laasgenoemde is in Julie 2010 skuldig bevind op aanklagte dat hy omkoopgeld van dwelmhandelaars ontvang het. – Sapa
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad