Bekende op TV se seun sê sy rand hom aan
2010-11-17 06:30
Beeld
Johannesburg - Die 12-jarige seun van ’n kykNET-aanbieder het ’n klag van aanranding teen haar by die polisie ingedien.
Die voorval het glo Donderdagaand in hul huis in die Mooikloof-landgoed, in die ooste van Pretoria, gebeur.
Kapt. Marissa van der Merwe, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak is ingedien.
Beeld weerhou die betrokkenes se name om die seun te beskerm.
Die seun se ma het aan Beeld gesê daar was nie ’n aanranding nie en dat haar seun in ’n moeilike stadium is.
Sy het Beeld daarna na Ferdi Hartzenberg, haar regsverteenwoordiger, verwys.
Die seun het verlede Donderdag 18:00 speletjies op sy Xbox gespeel.
Die ma wou die seun glo om die een of ander rede nie langer laat speel nie en hy is na sy kamer toe. In die kamer het die ma glo aan die seun gesê: “Jy is nes jou pa.”
Die seun se pa is ’n bekende sportman en die egpaar is van tafel en bed geskei.
“Sy (die ma) het kwaad geword tydens ’n onderonsie met hom.
“Sy het na bewering die seun gewurg en sy vingers in sy kamer omgebuig,” het Van der Merwe gesê.
Volgens Van der Merwe word die saak deur die kinderbeskermingseenheid ondersoek. Geen arrestasies is nog gedoen nie.
Hartzenberg het eers Dinsdag van die aanrandingsaak uitgevind toe Beeld hom daarvan gesê het.
Die polisie het nog nie hom of die kind se ma oor die saak gekontak nie.
“Daar was nie ’n voorval van aanranding nie en ons dink nie daar is enige meriete in die saak nie,” het Hartzenberg gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld