Bekende kerkman en stryder teen apartheid oorlede
2010-06-20 07:19
Johannesburg - Dr. Nico Smith, een van die bekendste Afrikaanse teoloë, is gisteroggend
oorlede.
Smith, ’n omstrede, maar ook dikwels geliefde
predikant, skrywer en kerkpolitikus van die VGK, het aan ’n hartaanval
beswyk. Hy was 81.
Smith sou gisteroggend ’n tafelgebed by die
verjaardagontbyt van me. Retha Janson, weduwee van dr. Murray Janson, ’n
ou studentevriend, gedoen het.
Volgens dr. Ellen Smith het sy en
haar man vroeg by die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuin aangekom
waar die geleentheid gehou is. Hulle moes ’n entjie na die restaurant
stap. Kort nadat hulle daar aangekom het, het sy hart probleme begin
gee.
Toe ’n ambulans ’n halfuur later opdaag, was hy reeds dood.
“Dit
voel so onwerklik dat hy nie by ons is nie. Hy het nog die laaste paar
dae so lekker na die sokker gekyk.”
Smith het veral opslae gemaak
toe hy in die 1980’s uit die NG Kerk getree het uit protes teen
apartheidsteologie en by die swart NG Kerk in Afrika (later VGK)
aangesluit het. Hy en sy vrou het in ’n pastorie in die Pretoriase swart
woonbuurt Mamelodi gaan woon.
In die daaropvolgende jare het hy
sy fel kritiek teen die NG Kerk volgehou, veral oor die onvermoë van die
NG Kerk en die VGK om saam te smelt.
Later was hy weer in die
nuus oor sy boek Die Afrikaner-Broederbond, waarin hy oor sy jare as lid
van dié geheime organisasie geskryf het.
Smith is gister uit
sowel die VGK- (as iemand wat “nooit stilgebly het as ongeregtighede
teenoor onskuldige swart mense gepleeg is nie”) as NG-geledere (as
iemand wat “nie vir die duiwel sou stuit as hy oortuig was hy is reg
nie”) gehuldig.
Smith laat sy vrou, drie dogters en vyf kleinkinders
agter.
- Rapport