Bejaardes leef in vrees ná brande
2011-06-22 08:59
Riversdal - Inwoners van ’n tehuis vir bejaardes hier leef in vrees nadat ’n vrou dood is aan brandwonde wat sy in raaiselagtige omstandighede opgedoen het. Twee ander brande het ook op dieselfde dag in die tehuis uitgebreek.
Susanna Griebenouw (85) het verlede Woensdag gesterf nadat ’n brand die vorige dag in haar kamer by die Ou Meule-tehuis vir bejaardes uitgebreek het. Sy was voor die voorval gedeeltelik verlam en kon nie praat nie.
Na verneem word, het sy van haar tone tot by haar middellyf verbrand.
Later die dag het nog twee brande in die tehuis uitgebreek. In die een voorval het die matras van nog ’n bejaarde aan die brand geraak, maar sy het oorleef. Die ander brand het in ’n stoorkamer uitgebreek.
Daar was die laaste tyd ook ander brandvoorvalle by die tehuis.
Johan Griebenouw, oudste seun van die oorledene, het gesê hy glo sy ma is vermoor. “Ek gaan nie rus tot die skuldige opgespoor is nie. Dit gaan nie oor wraak nie. Ek wil net verhoed dat so iets weer gebeur. Riversdal se gemeenskap verdien dit nie.”
Sy ma was tot onlangs in ’n vertrek saam met drie ander mense. Sy is “tydelik” na ’n vertrek op die grondverdieping geskuif – ver van die kantoor van die suster in beheer.
Hy is verlede Dinsdagmiddag ingelig dat daar ’n brand by die tehuis was. Sy ma is later in die hospitaal op Riversdal opgeneem en na George oorgeplaas.
’n Dokter op George het Woensdag vir hom gesê daar is nie veel wat vir haar gedoen kan word nie en sy het in die ambulans op pad terug na Riversdal gesterf.
Volgens Griebenouw het ’n onderwyser wat elke middag by die tehuis eet, kort ná 13:00 die brand geruik en gaan ondersoek instel.
Mnr. Johan Bosman, ’n tandtegnikus wat oorkant die straat werk, het ook die brand gesien en Griebenouw probeer help.
Bosman is ook bewus van nóg ’n brand wat dieselfde middag in ’n stoorkamer uitgebreek het.
Chris Veldsman, bestuurder van Droom (Diens aan Riversdal en omgewing), het gistermiddag aan Die Burger gesê die aangeleentheid word as ’n misdaad hanteer tot die teendeel bewys is. Ou Meule word onder die vaandel van Droom bestuur. Die polisie het reeds met ’n forensiese ondersoek begin.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die moontlikheid van brandstigting word ondersoek.
Veldsman het gesê hy wag vir die uitslag van die forensiese ondersoek. Hy beskou die voorval nie as geïsoleerd nie. Die bestuur van Droom doen alles in sy vermoë om die veiligheid van inwoners te verseker. Daar is onder meer begin met bykomende voetpatrollies in die tehuis.
Hy wou nie vinger wys nie, maar het benadruk Droom wil die aangeleentheid oplos.
Personeel gaan gevra word om vrywillig leuenverklikkertoetse af te lê.
Griebenouw word môre om 14:00 uit die NG kerk Riversdal-Wes begrawe.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger