Bejaardes in Oos-Kaap wreed vermoor
2013-01-25 14:07
Johannesburg – Twee bejaardes is in afsonderlike voorvalle in Ngcobo in die Oos-Kaap vermoor, het die polisie Vrydag gesê.
'n 73-jarige vrou is Vrydagoggend in haar huis in Manzana, waar sy alleen gewoon het, verwurg, het kol. Mzukisi Fatyela, polisiewoordvoerder, gesê.
"Die bewyse wat ons op die toneel gevind het, dui daarop dat sy moontlik verkrag is," het hy gesê.
In die tweede voorval in Mthintloni, Ngcobo, is 'n 77-jarige man Donderdagaand deur onbekende gewapende mans doodgeskiet, het Fatyela gesê.
"Die aanvallers het hom deur die venster geskiet. Vier leë patroondoppies is op die misdaadtoneel gevind."
Twee mans, 23 en 26 jaar oud, is ingeneem vir ondervraging en sal in hegtenis geneem word indien hulle met die misdaad verbind word.
Fatyela het gesê die polisie het 'n taakspan aangestel om die moorde te ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA