Bejaarde vrou op kleinhoewe vermoor
2010-02-13 05:51
Johannesburg - 'n Bejaarde vrou van Soshanguve is Donderdagaand in haar bed in haar huis op 'n kleinhoewe vermoor, het die polisie gesê.
Insp. Llifi Ramatlo het gesê die 73-jarige vrou se dogter (34) het haar ma se lyk Vrydagoggend gevind toe sy by die huis aankom.
Die vrou se keel is gesny.
Sy en haar dogter het alleen in die huis gewoon.
Die vrou se dogter het agterdogtig begin raak toe sy by die huis kom en die erf se hek is gesluit.
Volgens haar sou haar ma gewoonlik die hek oopmaak as sy sy pensioengeld gaan haal.
Sy het oor die hek geklim en aan haar ma se kamervenster geklop, maar niemand het geantwoord nie.
Die agterdeur was oop en die kombuis was deurmekaar.
Ramatlo het gesê daar was nie 'n teken van gedwonge toegang nie, maar die kombuisdeur kon maklik van buite oopgemaak word.
Sy het haar ma se lyk in die kamer gevind en die polisie ontbied.
– Sapa