Bejaarde vrou in haar huis verkrag
2013-02-20 14:04
Durban – 'n Bejaarde vrou is in haar huis in KwaZulu-Natal verkrag nadat 'n man haar met 'n mes gedreig het, het The Witness Woensdag berig.
Die 91-jarige vrou is na bewering Sondag in KwaDindi in die Vulindlela-gebied in Pietermaritzburg verkrag.
Joey Jeevan, polisiewoordvoerder, het gesê die vrou wou omstreeks 21:00 in die bed klim toe sy 'n klop aan die deur en toe aan die venster hoor. Sy het die kloppe geïgnoreer.
'n Rukkie later het 'n man, wat met 'n mes gewapen was, deur 'n venster in haar kamer geklim, het Jeevan gesê.
Die man het haar verskeie kere tot die vroeë oggendure van Maandagoggend verkrag. Hy het die vrou toe gedreig en geld geëis.
"Sy het R250, wat onder haar kussing was, aan die man gegee, waarna hy gevlug het," sê Jeevan.
Die polisie het gevra vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die man.
Minstens ses bejaarde vroue is oor die laaste jaar in die provinsie verkrag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA