Bejaarde vrou deur trein doodgery
2010-08-28 03:00
Kaapstad – ‘n Bejaarde vrou is dood nadat sy in Kimberley deur ‘n trein omgery is, het ER24 Vrydag gesê.
Die ongeluk het in die industriële area naby Mainstraat plaasgevind waar die spoorlyne tussen die geboue deur loop.
Volgens die treindrywer het hy die vrou op die treinspoor gesien en het hy probeer om die goederetrein tot ‘n stilstand te bring, maar die swaar vrag het dit onmoontlik gemaak.
Hy het haar glo ook probeer waarsku met die toeter, maar sy poging was tevergeefs.
Met ER24 se aankoms op die toneel was die vrou in ‘n kritieke toestand.
Hulle het haar op die toneel probeer stabiliseer en vinnig in ‘n ambulans gelaai.
Met hul aankoms by die hospitaal het haar toestand nog meer verswak.
Sy is kort na haar aankoms by die hospitaal as dood verklaar.
Die vrou het kopbeserings, verskeie diep snye, verskeie gebreekte bene, borsbeserings en moontlike interne beserings in haar maag opgedoen.
Die polisie sal die saak verder ondersoek en vasstel wie sy was sodat haar naasbestaandes ingelig kan word.
- Nuus24
Volg Nuus24 op Twitter