Bejaarde voor haar man doodgery
2009-11-25 09:09
Welkom - ’n Bejaarde vrou van Welkom is hier deur ’n vermoedelik dronk taxibestuurder reg voor die oë van haar man, wat vir haar in die motor gesit en wag het, doodgery.
Mag Jones (83) het reeds die straat oorgesteek en was met haar een voet op die sypaadjie toe sy deur die minibus getref is.
Arthur Jones sê hy het Saterdagmiddag oorkant die straat van Shoprite in die middestad stilgehou omdat daar nie parkeerplek reg voor die winkel was nie.
Sy vrou het haar inkopies gedoen en hy het gesien toe sy uit die winkel kom.
“Ek het haar dopgehou en gesien hoe sy na links en regs kyk voordat sy die straat oorsteek. Sy het met ’n drafstappie oor die straat gekom en was reeds met haar een voet op die sypaadjie toe ek skielik net ’n wit blits sien en die volgende oomblik het my vrou deur die lug getrek.”
T. Tshabalala is ná die voorval deur die polisie op die ongelukstoneel op aanklagte van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank in hegtenis geneem. Hy het Maandag vlugtig in die hof verskyn voordat hy op borgtog vrygelaat is.
Jones word ook deur twee dogters, vier kleinkinders en een agterkleinkind oorleef.
Die begrafnis is Vrydag om 11:00 vanuit die Rooms-Katolieke kerk in Welkom.
- Volksblad