Bejaarde sterf ná inbraak
2010-08-07 17:49
Johannesburg – ‘n 89-jarige man is Saterdag beroof en sy huis naby KwaMhlanga aan die brand gesteek, terwyl sy vriendin verkrag is.
“Die paartjie is deur ‘n klop aan die deur van hul hut wakker gemaak. Twee mans het hulself as polisiebeamptes voorgedoen,” het sers. Nonhlanhla Kgosana, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die verdagtes het die deur oop forseer en die bejaarde man oorval. Een van die mans het die 58-jarige vrou geblinddoek en haar verkrag,” het Kgosana gesê.
Kort voor die verdagtes op die vlug geslaan het, het hul die man se hut aan die brand gesteek. Hul het die slagoffer se beursie en polshorlosie gesteel.
“Omstanders het gehelp om die brand te blus,” het Kgosana bygevoeg.
Die bejaarde man het egter aan sy beserings beswyk.
‘n Saak van verkragting, moord en roof word ondersoek.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA