Bejaarde sterf in Vereeniging-ongeluk
2011-05-01 12:53
Johannesburg - 'n 74-jarige vrou is dood toe die motor waarin sy 'n passasier was teen 'n bakkie gebots het in Vereeniging, het paramedici Sondag gesê.
'n Woordvoerder vir ER24-nooddienste, Vanessa Jackson, het gesê die motor het by die Delfos-rylaan in Vereeniging ingedraai toe dit teen die bakkie gebots het.
"Die Uno het heel moontlik weens die nat pad, by die aansluiting gegly," het sy gesê.
Die vrou is na die Emfuleni Medi-kliniek geneem waar sy aan haar beserings beswyk het.
Haar dogter, wat die motor bestuur het, asook haar kleindogter is na die Clinix-hospitaal geneem waar hulle in 'n stabiele toestand verkeer.
Die bestuurder van die bakkie is met ligte beserings na die Sebokeng hospitaal geneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA