Bejaarde skiet vermeende inbreker dood
2010-07-19 08:38
Somerset-Wes - ’n Vermeende inbreker is hier in ’n vermoedelike onderonsie doodgeskiet nadat ’n senior burger hom in sy buitekamer betrap het.
Gerhard Jansen (72) van Die Wingerd hier het sy hond Vrydag omstreeks 21:00 hoor blaf en gaan ondersoek instel, volgens konst. Suzan Jantjies, plaaslike polisiewoordvoerder.
“Jansen het ’n flits en ’n pistool gevat en gaan kyk of hy iets in die buitenste stoorkamer kon sien. Daar het hy ’n vreemde man betrap. Dié het hom blykbaar oorval en met ’n onbekende voorwerp aangerand,” het Jantjies gesê.
Jansen, wat alleen woon, het glo neergeval, maar het homself teëgesit. Die twee het buite die stoorkamer aan die stoei geraak.
’n Skoot het glo in die stoeiery afgegaan en die vermeende inbreker is in die bors getref.
“Nadat hy geskiet is, het die indringer opgestaan en na die oorkantse veld langs die huis gestrompel. ’n Paar treë verder het hy inmekaargesak. Hy is net daar dood,” het Jantjies bygevoeg.
’n Buurvrou, Lita Potgieter, het gesê al is Jansen ’n alleenloper, is hy rustig en baie behulpsaam. “Hy pla niemand nie en help graag, soos toe my hond weggeraak het. Hy het my kom sê waar hy my hond sien rondloop het.”
Volgens Heidi Grabe weet Jansen altyd wat in die buurt aangaan. “Hy is ’n baie dierbare en lieflike mens. Hy is altyd besig met sy plante. Die enigste probleem is dat sy huis nie toegemaak is nie.”
Jansen self het erken daar is al voorheen by hom ingebreek. “Goed is al in sowat drie of vier voorvalle hier gesteel, maar só iets het nog nooit met my gebeur nie. Dis nie ’n lekker gevoel nie.”
Jansen is by die Helderberg-hospitaal vir ligte beserings en wonde behandel. Hy is reeds ontslaan.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Die Burger