Bejaarde man vas vir aanranding
2013-01-26 14:02
Johannesburg – ‘n Vier-en-sewentigjarige man van Limpopo is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n man in Roossenekal, Groblersdal, aangerand het, het die polisie Saterdag gesê.
Brig. Hangwane Mulaudzi sê die man is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy glo een van twee mans aangerand het wat Maandag na sy huis gegaan het om vir werk te vra.
Hy is op R500 borgtog vrygelaat.
Petrus Lazarus Kunz sal na verwagting Maandag in die Middelburg-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
“Hy het gedink hulle gaan hom beroof toe hy sy honde op hulle losgelaat het en hulle met ‘n vierwielmotorfiets agterna gesit het,” het Mulaudzi gesê.
Die mans het gevlug en een van hulle, die 19-jarige Lazarus Masilela, is deur die agterkant van ‘n geweer teen die kop getref. Hy het geval en is deur die vierwielmotorfiets omgery.
Sy vriend, Nicholas Tshehla (25), is nie beseer nie.
Mulaudzi sê Kunz het ‘n polisiebeampte langs die pad gekry en het hom voorgekeer. Hy het polisiebeampte vertel van die voorval en Masilela en Tshehla is opgespoor.
“Die stasiebevelvoerder het hulle op die pad gekry, hulle het selfs die polisiemotor voorgekeer om te vra of hulle die beseerde na die kliniek kan neem.”
Hy sê hulle is teruggeneem na die toneel en later na die polisiestasie.
Kunz is gevra om ‘n saak van oortreding oop te maak, maar hy het geweier.
“Ons het hom selfs opgeneem toe hy geweier het om die saak oop te maak,” het Mulaudzi gesê.
Masilela en Tshehla is daarna ondersoek vir enige betrokkenheid in die misdaad en toe niks gevind is nie, is hulle vrygelaat.
Mulaudzi sê Kunz het Donderdag na ‘n ander polisiestasie in die omgewing gegaan waar hy beweer het hy is nie by die Roossenekal-polisiestasie gehelp nie.
‘n Speurder en daardie stasie se bevelvoerder het gevolglik na die Roossenekal-stasie gegaan waar beamptes verduidelik het dat Kunz geweier het om die saak oop te maak.
Die saak is na die Roossenekal-polisiestasie verwys waar dit oopgemaak is.
Die polisie het Donderdag na Masilela en Tshehla gesoek en hulle is opgespoor.
Hulle is in hegtenis geneem en is op ‘n waarskuwing vrygelaat. Hulle sal op 31 Januarie in die Laersdrift- periodieke hof verskyn.
Die twee het Vrydag teruggekeer na die polisiestasie en ‘n saak van aanranding teen Kunz oopgemaak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA