Bejaarde man deur rowers vemoor
2011-10-02 14:45
Johannesburg – 'n Bejaarde man (75) van Benoni is dood en sy vrou is beseer nadat hulle deur rowers in hul huis aangerand is, het die polisie gesê.
Twee mans het die deur van die paartjie se huis omstreeks 01:00 oopgeforseer, het Tryna Wolmarans, 'n polisiewoordvoerder gesê.
Die verdagtes het kontant en vuurwapens by die man se 71-jarige vrou geeïs voordat hulle haar met 'n vuurwapen geslaan het.
Hulle het daarna na 'n tweede slaapkamer gegaan waar hulle die man aangetref het en hom ook aangerand. Die man het later aan sy beserings beswyk.
"Dit is nog nie bekend of die rowers enigiets uit die huis gesteel het nie," het Wolmarans gesê.
Die vrou is in 'n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.
'n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA