Bejaarde man deur honde doodgebyt
2012-01-25 20:56
Johannesburg – ‘n Bejaarde man is in George deur honde doodgebyt nadat hy gestuur is om ‘n skaap te gaan koop, het die polisie in die Wes-Kaap Woensdag gesê.
Die familie van Blom Mbanve (83) van Thembalethu het hom op 16 Januarie gestuur om ‘n skaap te gaan koop vir ‘n feesmaal later in die week, het kapt. Malcolm Pojie gesê.
Hy het nie teruggekeer nie. Sy lyk is die volgende dag omstreeks 18:45 langs ‘n paadjie in ‘n veld in George Industria gevind.
‘n Voorlopige lykskouing het getoon hy het hom doodgebloei nadat hy verskeie kere deur honde gebyt is, het Pojie gesê.
Die man wat sy lyk gevind het, is die eienaar van die sewe honde wat hom vermoedelik doodgebyt het. Die man was nie ten tyde van die aanval tuis nie.
Volgens Pojie het die DBV beslag op die honde gelê. Hulle is in veilige aanhouding geplaas, hangende ‘n besluit deur die DBV, die polisie en ander wetstoepassers oor wat om met hulle te doen.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA