Bejaarde man by winkelsentrum beroof
2012-01-18 17:58
Johannesburg – Rowers het R8 000 by ‘n bejaarde man by die Lenasia Mall in Gauteng gesteel nadat die diewe hom in ‘n lokval gelei het.
Kay Makhubele, ‘n polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het geld op die grond neergesit. Hy sê die 66-jarige man het die geld opgetel aangesien hy gedink het iemand het dit laat val.
‘n Groen motor het langs die man stilgehou en die insittendes het hom daarvan beskuldig dat hy hul geld gesteel het. Hulle het daarop aangedring dat die man in die motor klim sodat die saak by die polisiestasie opgelos kan word.
Die bejaarde man het ingestem, maar is na ‘n nabygeleë veld geneem, waar die verdagtes R4 000 wat hy pas by die bank getrek het, gevat het. Die rowers het ook sy bankkaart en pinnommer gevat.
Sy bankrekening is enkele minute later met R4 000 verminder.
Makhubele sê die voorval is die derde een in onlangse weke en die polisie vermoed dat ‘n bende bejaarde mense teiken wat hul pensioengeld of geld vir hul kleinkinders se skoolfondse trek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA