Bejaarde kritiek ná inbraak
2011-02-17 18:00
Bloemfontein – ‘n 82-jarige man van Estoire, buite Bloemfontein, is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat drie verdagtes by sy huis ingebreek het.
“Johannes Voster was alleen by die huis toe iemand aan die venster geklop en vir werk gevra het,” het lt. kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, gesê.
“Terwyl die verdagte Voster se aandag afgetrek het, het twee ander mans toegang tot die huis verkry. Die mans het Voster oorval en aangeval met ‘n stomp voorwerp.”
Volgens Wrensch het die slagoffer ernstige hoofbeserings opgedoen en is hy na die Life Rosepark-hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.
Die verdagtes het glo met geld en sigarette op die vlug geslaan.
Die voorval word deur die polisie ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA