Bejaarde in haar slaapkamer verkrag
2010-04-27 22:28
Johannesburg – ‘n 78-jarige vrou van Tsolo is deur ‘n onbekende man verkrag terwyl haar kleinseun in die kamer langsaan gesit en studeer het, het die polisie in die Oos-Kaap Dinsdag gesê.
“Die slagoffer was Maandagaand omstreeks 18:00 in haar slaapkamer toe ‘n man deur die venster geklim en haar verkrag het,” het kol. Mzukisi Fatyela, polisiewoordvoerder, gesê.
“Haar 18-jarige kleinseun het in die kamer langsaan gesit en studeer en niks vermoed nie.”
Volgens Fatyela het die verdagte ‘n mes teen die bejaarde se keel gehou en kon sy nie om hulp roep totdat hy gevlug het nie.
“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Ons het egter inligting gekry en die ondersoek duur voort,” het hy gesê.
- Sapa