Bejaarde egpaar op plaas oorval
2011-08-22 08:04
Noordwes – ’n Bejaarde egpaar is Sondagoggend op hul plaas in Noordwes oorval, vasgebind en beroof.
Izak Roodt (85) en sy vrou, Rita (79), het elk met ligte beserings daarvan afgekom toe drie gewapende mans hulle op hul plaas Blaauwbank, tussen Lichtenburg en Mafikeng, oorval het.
Daar is ook ’n delwery op die plaas.
Volgens Mari Marnewick, een van die egpaar se dogters, het haar pa Sondagoggend uitgestap om die tuin te gaan natlei toe ’n “baie groot, donkerswart man op hom afgestap en hom gegroet het”.
Dit wil voorkom of ’n tweede indringer Roodt toe van agter af teen die oor geslaan het.
Die huisrowers was glo nie tevrede met die bedrag geld wat in die kluis was nie en het blykbaar aangedring op “miljoene”.
Hulle het mev. Roodt toe ook deur die gesig geklap.
“My pa het heeltyd my ma probeer beskerm.
Hy het die rowers gesê om haar uit te los, want sy weet nie veel van sy sake en die besigheid nie.
Die drie het my ouers heeltyd gedreig,” sê Marnewick, wat op ’n plaas sowat 20 km van haar ouers s’n bly.
“My pa se oog is toegeswel en blou. Hy is baie moeg en met tye deurmekaar. My ma het ook ’n merk op haar gesig.
Hulle was by die dokter en is behandel.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld