Bejaarde egpaar in Mpumalanga vermoor
2011-12-18 16:54
Johannesburg – ‘n Vyf-en-sewentig-jarige man en sy vrou is vermoor by hul huis in Masibekela in Tonga, het die polisie in Mpumalanga Sondag gesê.
‘n Buurvrou het die ontbinde lyke Saterdag omstreeks 21:00 op die slaapkamervloer gevind, het lt. kol. Leonard Hlathi gesê.
Die lyke het oop wonde aan hul koppe gehad, asof hulle met ‘n byl gekap is, het hy gesê.
“Die inbrekers het toegang tot die huis gekry deur die voordeur oop te breek.”
Volgens Hlathi is die huis geplunder, maar voorlopige ondersoeke kon nie onthul of iets gesteel is nie.
Volgens Hlathi is die paartjie Woensdag laas gesien, deur die buurvrou wat hulle dood aangetref het.
“Die buurvrou het bekommerd geraak toe sy hulle vir twee dae nie gesien het nie en het na die huis gegaan om ondersoek in te stel.”
Die moorde word ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA