Bejaarde breek been vir motorfiets
2009-11-23 17:04
Isando, Durban - ’n 61-jarige Man het sy lewe gewaag en sy been in die proses gebreek toe hy sy motorfiets wou red van enige ernstige skade.
Die motorfietsbestuurder het na bewering in Brabazarstraat in Isando oor olie gery.
Uit vrees dat hy gaan val, het hy sy been glo na die kant toe uit gesteek om sy motorfiets, ‘n Ducati, te stabiliseer.
Hy het sy linkerbeen onder sy knie gebreek nadat dit onder die motorfiets beland het.
Die man het daarin geslaag om sy motorfiets van enige skade te red, ongeag die pyn wat hy moes verduur.
Die bestuurder het eers nadat hy sy fiets laat regop staan het, inmekaargesak.
Reddingswerkers van Netcare 911 het hom aan die kant van die pad gekry waar hy gelê het.
Hy is op die ongelukstoneel gestabiliseer en na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
- Netcare 911