Begrafnisdatum vir Zenani Mandela aangekondig
2010-06-14 20:09
Johannesburg – Die begrafnis van Nelson Mandela se agterkleinkind, Zenani Mandela, sal Donderdag by die kapel van haar voormalige skool, St Stithians College in Sandton, plaasvind, het die Nelson Mandela-stigting Maandag gesê.
Hoewel die begrafnis nie vir die publiek oopgestel sal wees nie, is Suid-Afrikaners welkom om hulle boodskappe van medelye per e-pos aan die Mandela-familie te stuur, het Sello Hatang, die stigting se woordvoerder, gesê.
"Ons verstaan dat Suid-Afrikaners en besoekers aan die land almal daar sal wil wees, maar weens 'n gebrek aan ruimte vra ons dat hulle hul boodskappe eerder stuur na nmf@nelsonmandela.org," het hy gesê.
"Ons sal seker maak dat die familie dit ontvang."
Zenani Zanethemba Nomasonto Mandela, 13, het in 'n motorongeluk gesterf kort ná die Wêreldbeker-openingskonsert in Soweto.
Sy is die kleinkind van Zindzi Mandela, dogter van Winnie Madikizela-Mandela.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA