Bees wil pleitooreenkoms met staat aangaan
2011-09-05 12:53
Kaapstad – Die Blou Bul-rugbyspeler Jacobus Stephanus "Bees" Roux is glo besig om ‘n pleitooreenkoms met die staat te onderhandel.
Die moordsaak teen Roux is Maandag in die Pretoriase hooggeregshof tot Woensdag uitgestel.
Eyewitness News berig die saak is uitgestel sodat die staat en die verdediging die besonderhede oor die ooreenkoms kan bespreek.
Volgens die nuusbron sal die staat Roux toelaat om skuldig te pleit sodat hy ‘n ligter straf opgelê kan word.
Die rugbyspeler verskyn op aanklag van moord nadat hy op 27 Augustus verlede jaar in hegtenis geneem is.
Roux is destyds vasgetrek in verband met die moord op die Tshwane-metropolisieman sers. Ntshimane Johannes Mohale.
Mohale (38) het Roux na bewering in die vroeë oggendure voorgekeer weens beweerde dronkbestuur. ’n Onderonsie het tussen Roux en Mohale ontstaan, waarna Roux hom glo aangerand het.
Die polisiebeampte het op die toneel, op die hoek van Richard- en Schoemanstraat, aan sy beserings beswyk.
Die Pretoriase landdros het destyds die saak teen die rugbyspeler as ‘n skedule ses-oortreding verklaar.
Lees meer hier.
Volg Nuus24 op Twitter.