‘Bees was nié in ontkleeklub’
2010-09-05 08:20
Rapport
Herman Scholtz
Pretoria - Die tergende raaisel rondom die moordsaak teen die Blou Bul-stut Bees Roux het Saterdag verder verdiep.
Daar is nog baie vrae oor wat presies die aand van die dood van sers. Johannes Mogale (38) van die Tshwane-metropolisie gebeur het – en ook oor Roux se bewegings dié aand.
James Adams, Roux se agent, het teenoor Rapport ontken dat Roux voor die voorval verlede Vrydag in die ontkleeklub Flamingo’s gekuier het, soos vroeër berig is.
Pieter Crous, eienaar van Flamingo’s, het dit ook ontken. Hy het aan Rapport gesê verskeie mense het nou al die beeldmateriaal van die klub se veiligheidskameras bestudeer.
“Hy is nie op die beeldmateriaal nie. Die enigste manier waarop hy kon inkom sonder dat hy op die beeldmateriaal is, is as hy deur die dak geval het.”
Volgens Crous het ’n danseres wel gesê sy het “iemand wat soos Bees lyk” gesien, maar dié man het tatoeëermerke wat Roux nie het nie.
Die polisie moet ook nog ondersoek wie na bewering Roux se kredietkaart by ’n McDonald’s-restaurant gebruik het terwyl hy in die polisieselle was.
Sers. Patrick Mafanele van die ondersoekspan het die afgelope week in die Pretoriase landdroshof getuig luidens verklarings in die Roux-dossier is hy in Hatfield, Pretoria, afgetrek omdat hy vermoedelik dronk bestuur het. Mafanele het egter toegegee dat geen bloedtoetse óf blaaspypietoetse op Roux gedoen is nie.
Die hof het gehoor Roux het tydens die beweerde aanranding op Mogale vir omstanders geskree hulle moet die polisie bel. Roux beweer hy was die slagoffer van diefstal of roof en het uit selfverdediging opgetree.
Mogale het op die toneel aan sy wonde beswyk en die polisie het Roux kort daarna op die toneel gearresteer. Roux is na die Sunnyside-polisiekantoor geneem en die naweek daar aangehou, maar steeds is geen bloedtoetse gedoen nie.
“Luidens die getuienis is geen toetse gedoen nie omdat die SAPD nie geweet het daar is ’n bewering van dronkbestuur nie,” het brig. Mahlomola Manganye, bevelvoerder van die polisiekantoor, aan Rapport gesê.
Console Tleane het namens die Tshwane-metropolisie gesê die “hof is in die beste posisie om te besluit waarom daar geen toetse gedoen is nie”.
Hy het gesê ’n gebrek aan bloedtoetse beteken nie daar is geen bewyse teen Roux met betrekking tot die dronkbestuurklag nie. Hooflanddros Desmond Nair het nog ’n leemte in die voorlopige feite uitgelig deur te sê die twee ander metropolisiebeamptes wat Roux saam met Mogale afgetrek het, is nog nie ten volle betrek nie.
Mafanele het getuig hy hét die beamptes opgesoek, maar dat hulle nie antwoorde kon verskaf nie omdat hulle glo “niks” gesien het nie.
* Dr. Gwen Ramokgopa, uitvoerende burgemeester van Tshwane, het Saterdag by Mogale se begrafnis by sy huis in die dorpie Shakung in Noordwes gevra dat mense die saak in die howe se hande laat.
Dít nadat dir. Ndumiso Jaca, hoof van proaktiewe polisiëring in die Tshwane-metropolisie, Donderdag tydens die gedenkdiens vir Mogale teen Roux en die media uitgevaar het.
Ds. J. Makole het aan die honderde roubeklaers, onder wie verskeie politieke leiers en minstens 100 metropolisiebeamptes, gesê: “Satan gebruik mense om sy werk te doen, en in dié geval het hy ’n man, Bees, gebruik.”
- Rapport