Bees staan bakhand vir skuld aan familie
2011-09-11 06:59
Johannesburg - Bees Roux (28) het ’n vry man uit die hof gestap, maar sy probleme is nog lank nie verby nie.
Hy het nie die R750 000 wat hy belowe het aan die familie van die metropolisielid wat hy doodgeslaan het nie.
Boonop is sy toekoms by die Blou Bulle in die weegskaal.
Roux is Vrydag kragtens ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat vyf jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is nadat hy skuld beken het op aanklag van strafbare manslag in plaas van moord op sers. Johannes Ntshimane Mogale (38).
James Adams, Roux se agent, het aan Rapport gesê die rugbyspeler is besig om “elke speler, vriend en familielid” te vra om by te dra tot die R750 000 wat hy ingevolge die pleitooreenkoms met die staat moet betaal.
Hy het glo nie ’n sent op sy naam nie.
Roux het destyds in sy borgtogaansoek gesê die Blou Bulle betaal hom R800 000 per jaar en hy het geld in ’n oorsese rekening.
Volgens Adams moes Roux se vriendin nou al ’n verband op haar huis uitneem.
Sy regskoste beloop R300 000, het hy gesê.
“Ons sál die geld kry. My eerste prioriteit is om vir hom ’n werk te kry, hetsy plaaslik of oorsee.”
Ian Schwartz, woordvoerder van die Blou Bulle, het by navraag gesê Roux is steeds geskors en gaan nie outomaties weer op die veld draf nie.
Hulle sal dié week met Roux vergader, het hy gesê.
Maar Adams sê die Blou Bulle het reeds vóór die strafsaak geskimp hulle sal dalk nie sy kontrak hernu nie.
Dit verval in Oktober.
Adams het aanvanklik gesê Roux staan nie nou onderhoude toe nie omdat daar volgende week ’n “eksklusiewe onderhoud” met ’n tydskrif of koerant moet wees teen betaling.
Dít moet help om Roux se koste te dek, het hy gesê.
Maar later het hy gevra dit moenie geskryf word nie en dat alle koerante wat Roux “goedgesind” is, genooi sal word na ’n mediakonferensie.
Daar sal die media gevra word om ’n bankrekeningnommer te publiseer waarin skenkings betaal kan word.
Toe Adams gevra is of dié strategie nie vraagtekens plaas oor sy bereidwilligheid om verantwoordelikheid vir sy wandade te aanvaar nie, het hy dit ontken.
“Hy was ’n totale wrak. Op pad van die hof af het hy nie ’n woord gesê nie. Daar is geen twyfel dat hy opreg is nie.”
Roux het erken hy het die aand van die voorval te veel gedrink in die Eastwoods Tavern langs Loftus Versfeld voordat hy deur Mogale afgetrek is.
Volgens Roux wou Mogale hom beroof en het die stuur van Roux se VW Polo oorgeneem. Roux het Mogale begin slaan omdat hy om sy lewe gevrees het, het hy in die hooggeregshof in Pretoria gesê.
Roux het onder meer Mogale se skedel gebreek.
***
“Ek verkoop nie die lewe van my man deur vir die geld te vra nie,” het Margaret Mogale in ’n verklaring voor die hof gesê.
Sy het namens die familie ingestem tot die pleitooreenkoms wat deur regter Nomonde Mngqibisa-Thusi bekragtig is.
Mogale sê in die verklaring sy is die oggend van 27 Augustus 2010 wakker geklop deur lede van die Tshwane-metropolisie wat haar ingelig het haar man is dood.
“Ek was so bang. Noudat hy weg is, is die kinders ’n groot las op my omdat ek alleen is. Ek het drie kinders. Die eerste een word 17 dié jaar, die tweede is 10 en die laaste een is 4 jaar.
“Die skikking in hierdie saak sal help om my en my familie weer op ons voete te kry. Ek het nie skuiling vir die kinders wat nog skoolgaan en vervoer nodig het nie.
“Die geld is daar om my en my kinders te help om aan te gaan met die lewe sonder om die verlies van my man so erg te voel.”
Die verklaring is op die dag van die skikking onderteken.
Volgens Richard Taukobong, die Mogale-familie se woordvoerder, het die onderhandelinge ses uur geduur.
“Ons het afsluiting nodig gehad. Hy (Bees Roux) het spyt en simpatie getoon.”
Taukobong het volgehou die metropolisiebeampte was nié korrup nie.
“Niemand kan hom oordeel op grond van die aantygings wat gemaak is nie. Net die Here kan besluit.”
Dit gaan ook nie oor die geld nie, het hy gesê.
Rudi Krause, Roux se prokureur, het gesê dit het in die onderhandelinge uitgekom dat die Tshwane-metropolisie nog geen pensioengeld aan die Mogale-familie uitbetaal het nie. Die familie het dus groot nood.
Krause het ook gesê die indruk dat geregtigheid gekoop is, is ongegrond.
“Hy het vergifnis gevra en dit gekry.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport