Bees 'n vlugrisiko, sê hof
2010-08-30 23:30
Pretoria - Die Blou Bulle-rugbyspeler, Jacobus Stefanus Roux - ook bekend as Bees - hou 'n vlugrisiko in omdat hy glo 'n bankrekening in Frankryk het, het landdros Desmond Nair Maandag bevind, berig RSG.
Roux het egter gesê hy beplan nie om 'n voortvlugtige bestaan te voer nie.
Die stut het in sy verklaring wat Maandag voor die hof gedien het, aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het.
Hy is op borgtog van R100 000 vrygelaat.
Roux staan tereg op aanklag van moord en dronkbestuur ná hy 'n metropolisiebeampte erg aangerand het. Die beampte het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Volgens 'n verklaring voor die Pretoriase landdroshof het Roux geglo dat hy 'n slagoffer van diefstal en poging tot roof was toe hy die beampte aangerand het.
Roux verskyn weer op 15 Oktober in die hof.
- Nuus24