Bees Roux: skedule 6-oortreding
2010-08-30 13:36
Kaapstad – Die landdros in die saak teen die rugbyspeler Bees Roux het die saak as ‘n skedule ses-oortreding verklaar.
Bees Roux het Maandag in die hof verskyn op aanklag van moord en dronkbestuur.
Hy is Vrydag in die vroeë oggendure deur metropolisielede afgetrek omdat hy glo onder die invloed bestuur het. ’n Onderonsie het tussen Roux en sers. Ntshimane Johannes Mohale (38) ontstaan, waarna Roux hom glo aangerand het.
Mohale het op die toneel, op die hoek van Richard- en Schoemanstraat, aan sy beserings beswyk.
Gesteelde kredietkaart
Beeld berig dat Roux se kredietkaart na bewering op die aand, kort voor die voorval, gesteel is. Die kaart is toe glo na die aanval gebruik.
Ernstige oortreding
Volgens Devereaux Morkel, joernalis vir Jacaranda 94.2 wat van die hof uit tweet, het landdros Desmond Nair kort voor middagete die saak as ‘n skedule ses-oortreding bestempel, wat beteken dat Roux buitengewone omstandighede moet bewys hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.
Roux is deur familielede en sy meisie in die hof bygestaan. Hulle wil geen kommentaar aan die media lewer nie.
Hy het aansoek gedoen om R5 000 borg, maar die staat vra vir R20 000 weens die erns van die misdaad.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24