Bees Roux-moordsaak weer vertraag
2011-09-05 11:21
Johannesburg – Die moordsaak teen die Blou Bul-rugbyspeler Jacobus Stephanus "Bees" Roux is Maandag in die Pretoriase hooggeregshof weereens vertraag.
Die verhoor is uitgestel aangesien sy regsverteenwoordigers hul besprekings met die staat wou finaliseer.
Volgens Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, is die saak tot Woensdag uitgestel.
Mhaga kon nie bevestig wat die besprekings behels nie.
Die rugbyspeler verskyn op aanklag van moord nadat hy op 27 Augustus verlede jaar in hegtenis geneem is.
Roux is destyds vasgetrek in verband met die moord op die Tshwane-metropolisieman sers. Ntshimane Johannes Mohale.
Mohale (38) het Roux na bewering in die vroeë oggendure voorgekeer weens beweerde dronkbestuur. ’n Onderonsie het tussen Roux en Mohale ontstaan, waarna Roux hom glo aangerand het.
Die polisiebeampte het op die toneel, op die hoek van Richard- en Schoemanstraat, aan sy beserings beswyk.
Die Pretoriase landdros het destyds die saak teen die rugbyspeler as ‘n skedule ses-oortreding verklaar.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA