Bees Roux hoor gou van Bulle, sê agent
2011-09-12 07:03
Pretoria – Bees Roux se skorsing as rugbyspeler behoort nou deur die Blou Bulle opgehef te word, maar dit sal vandeesweek intern deur die Blou Bulle Maatskappy gehanteer word.
Só het Roux se agent, James Adams van In Touch Sports in Londen, Sondag gesê.
Roux (28), ’n Bou Bul-stut, is Vrydag ingevolge ’n pleitooreenkoms met die staat vyf jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is. Hy het in die hooggeregshof in Pretoria skuld beken op aanklagte van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank in die vroeë oggendure van 27 Augustus verlede jaar. Hy het sers. Johannes Ntshimane Mogale (38), ’n Tshwane-metropolisielid, op straat in Pretoria doodgeslaan.
Luidens Roux se verklaring voor die hof het Mogale hom vooraf ontvoer, gedreig en hy wou sy bankkaart se PIN hê.
Hy het Mogale geslaan om dié “onskadelik” te stel.
Adams het gesê Roux se kontrak met die Bulle sal dié week aandag kry. Roux sal hopelik aanhou rugby speel vir die Bulle.
Roux moet ingevolge die pleit-ooreenkoms aan Mogale se weduwee, Margaret Mogale, R750 000 betaal.
Op ’n vraag oor wat Roux sedert Vrydag gedoen om die geld in die hande te kry, het Adams geantwoord: “Hy (Roux) het net die naweek geneem om na te dink. Ons sal in die week die kwessie oor die verkryging van die geld hanteer.”
Ian Schwartz, woordvoerder van die Blou Bulle, het gister nie gereageer op ’n versoek om kommentaar op sy selfoon se boodskapdiens nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld