Bees: Kaart-boef in aanhouding
2010-09-06 18:38
Pretoria – ‘n 29-jarige man wat in verband met die Blou Bul-stut Bees Roux se gesteelde kredietkaart in hegtenis geneem is, sal by die Leeuwkop gevangenis in aanhouding bly hangende verdere ondersoeke, het die Pretoriase landdroshof Maandag beslis.
Vusumuzi Ntloko van Mamelodi is Vrydagmiddag in hegtenis geneem nadat hy glo Roux se twee kredietkaarte by verskeie verkoopspunte gebruik het.
Hy het Maandag op 12 aanklagtes van bedrog en een van diefstal in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Die staatsadvokaat Mitric Luphondo het geargumenteer dat Ntloko nie op borgtog vrygelaat moet word nie, aangesien hy met materiële bewyse kan peuter, veral by sy werkplek Makro waar elektroniese apparate met een van Roux se kaarte gekoop is.
“Groot hoeveelhede geld is by Makro gebruik,” het Luohondo aan die hof gesê en bygevoeg sommige van die items wat gekoop is nog nie teruggevind is nie.
Sommige van die transaksies het glo binne minute van mekaar by verskeie drankwinkels en slaghuise plaasgevind.
Die borgaansoek is tot 13 September uitgestel.
Ntloko het glo die twee kredietkaarte opgetel by die toneel waar ‘ Tshwane metropolisie-beampte, Ntshumane Johannes Mogale, 38,glo deur Bees Roux doodgeslaan is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA