Bedrog met welsyngeld kos Sassa miljoene
2011-05-31 06:56
Kaapstad – Welsyntoelaes van nagenoeg R240 miljoen het die afgelope ses jaar weens korrupsie en bedrog verlore gegaan.
KwaZulu-Natal, met ’n verlies van meer as R88,9 miljoen, troon uit bo al die provinsies wat met dié probleem sit, gevolg deur die Wes-Kaap met R34,9 miljoen en Gauteng met meer as R28,6 miljoen.
Dit blyk uit ’n skriftelike antwoord wat Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, in die parlement op ’n vraag van Patricia Kopane, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, gegee het.
Kopane wou weet wat die algehele verlies is wat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) sedert sy ontstaan weens bedrog en korrupsie gely het. Sy het ook gevra of oortreders aangekla is, hoeveel tans voor die hof is en hoeveel reeds skuldig bevind is.
Dlamini het gesê van 2005 tot 2011 is 21 817 sake van bedrog met maatskaplike toelae aanhangig gemaak.
Die meeste oortreders, altesaam 5 390, is in KwaZulu-Natal vasgetrek, 3 340 in Gauteng, 2 829 in die Oos-Kaap, 2 599 in Limpopo en 2 331 in die Wes-Kaap.
Volgens haar het 17 908 sake tussen Junie 2005 en Desember verlede jaar voor howe gedien en is net meer as 15 000 individue aan bedrog skuldig bevind.
Sassa het reeds planne ingestel om te verseker dat dié geld terugbetaal word, het Dlamini gesê. “Elke individu wat daaraan skuldig bevind word dat hy of sy die welsynstelsel bedrieg het, moet ’n skulderkenning onderteken om die geld terug te betaal, plus 15% rente.
“Die geld word regstreeks gedeponeer in Sassa se rekening, wat deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) bestuur word.
“Wanneer ’n debiteur nie die ooreenkoms nakom nie, word eisbriewe uitgereik en hy word weer voor die hof gedaag.”
Die SOE betaal die geld aan die departement van maatskaplike ontwikkeling, wat dit dan aan die nasionale tesourie oorbetaal.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger