Beampte by padblokkade omgery
2010-07-17 23:21
Johannesburg - ‘n Johannesburgse metropolisiebeampte is Saterdagaand beseer toe ‘n motoris glo geweier het om stil te hou by ‘n padblokkade in Soweto, het ‘n woordvoerder gesê.
“Een van die ander beamptes moes drie skote afvuur alvorens die bestuurder van die Toyota sy motor gestop het,” het supt. Wayne Minnaar, woordvoerder, gesê.
Die koeëls het twee motors getref, maar niemand is tydens die skietery beseer nie.
Die voorval het omstreeks 19:00 op die hoek van Mooki- en Sofasonkestraat plaasgevind.
Na bewering was die bestuurder van die voertuig onder die invloed van alkohol gewees.
Hy is in hegtenis geneem en staar nou aanklagte van dronkbestuur, roekelose en nalatige bestuur en poging tot moord in die gesig.
Die metropolisiebeampte is na die Milpark-hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA