Barbie se ma soek minnaresse in hof
2010-01-18 11:08
Sonja Carstens
Die ma van Cézanne Visser vra die twee voormalige Suid-Afrikaanse minnaresse van Dirk Prinsloo wat ook op sy aandrang borsvergrotings gekry en sy naam op hul lywe laat tatoeëer het, om na vore te kom.
“My gewete sou my opgevreet het as ek hulle was. Hulle weet wat hy (Prinsloo) aan hulle gedoen het, maar vir die afgelope nege jaar laat hulle toe dat Cézanne die wêreld alleen moet probeer oortuig watter mag Prinsloo oor vroue het,” het Susan Lemmer, Visser se ma, gister gesê.
Die twee vroue se name het tydens Visser se verhoor herhaaldelik opgeduik. Daar is tientalle foto’s van hulle in Prinsloo se omstrede rooi album wat ingevolge ’n hofbevel deur die griffier in ’n kluis van die Pretoriase hooggeregshof bewaar word sodat die publiek nie toegang daartoe het nie.
Die vroue het na verneem word tot dusver geweier om vir die staat of vir Visser te getuig.
Lemmer het gister gesê hul getuienis sal waardevol wees vir Visser se saak. Adv. Johann Engelbrecht SC, haar regsverteenwoordiger, sal op 8 Februarie begin om deskundige getuienis ter versagting van haar vonnis aan te bied.
Sy is vroeër skuldig bevind op aanklagte van onder meer onsedelike aanranding.
Lemmer het gereageer nadat getuienis dat Prinsloo een van sy minnaresse in Belo-Rusland aangerand het, verlede week in die hof in Baranowitsji aangebied is.
Prinsloo staan daar tereg nadat hy glo op 10 Junie verlede jaar met ’n klapmus en ’n speelgoedgeweer geprobeer het om ’n bank te beroof.
Die hof het ook gehoor Prinsloo het me. Anastasia Gomza, een van sy voormalige minnaresse, tussen Junie en Desember 2008 gereeld aangerand. Ná een aanranding het Prinsloo na bewering aan Gomza gesê sy sal goed lyk met silikoonlippe en -borste. Sy het ook glo sy naam op haar laat tatoeëer.
Dit kom nadat Engelbrecht verlede jaar ’n foto van Visser by die hooggeregshof ingedien het as ’n bewysstuk van hoe Prinsloo haar glo mishandel het.
Op die foto’s verskyn Visser kaal met haar hande agter haar rug vasgeboei terwyl bloedhale op haar boude gesien kan word.
Volgens Lemmer ontstel die koerantberigte oor Prinsloo se verhoor Visser “verskriklik”, juis omdat hy glo daar nog vroue gemartel het.
“Sy leef van dag tot dag tot haar vonnis. Sy het begin met terapie, maar kan nie daarop fokus totdat sy weet wat die toekoms vir haar inhou nie. Sy gooi haar in haar werk in, dit is hoe sy oorleef op die oomblik. Sy kry bitter swaar.”
Volgens Lemmer was die hofsaak die feestyd ’n verbode woord, maar het hulle die tyd as familie spesiaal gemaak juis weens die onsekerheid oor wat op Visser wag.
- Beeld