Barbie op lys van seksoortreders
2010-05-17 16:00
Johannesburg - Die veroordeelde seksmisdadiger Cézanne Visser het Maandag vlugtig in die Noord-Gautengse hooggeregshof verskyn terwyl sy op Suid-Afrika se nasionale register van seksoortreders gelys word.
Visser, ook bekend as Advokaat Barbie, het Maandag 'n vonnis van sewe jaar tronkstraf begin.
Haar insluiting op die lys beteken sy kan nooit weer met kinders werk of 'n voog wees nie.
Sy het 'n seeblou kussing, kombers in ‘n deurskynende sak en drie toksakke saamgebring, het Jeanne-Marie Versluis
van Beeld berig.
Visser het kalm en rustig voorgekom.
Haar stiefpa, Johan Lemmer, het buite die hof in trane uitgebars toe hy van die “heksejag” teen Visser gepraat het.
Die omstrede kapmvegter vir die regte van gevangenes, Golden Miles Bhudu, het aan Visser se ma, me. Susan Lemmer, gesê haar dogter moet so gou as moontlik van haar “perdjie” afklim en inskakel by haar medegevangenes aangesien dit haar enigste oorlewing sal wees.
Regter Van der Byl het aan Visser gesê: "Dit bring 'n einde aan 'n lang hofsage. Ek wens u alles van die beste vir die toekoms toe."
Adv. André Fourie, aanklaer, het gesê ironies genoeg het hy die afgelope sewe jaar aan Visser se saak gewerk en nou gaan sy vir sewe jaar tronk toe.
- Nuus24
Volg Beeld op Twitter.