Barbie glo haar appèl kan slaag
2010-03-24 07:34
Pretoria - Cézanne Visser (31), bekend as adv. Barbie, het Dinsdag ’n beëdigde verklaring van 151 bladsye vir haar appèlsaak ingedien waarin sy sê sy het méér as ’n redelike moontlikheid om suksesvol te appelleer.
Visser wil in die appèlhof appelleer nadat waarnemende regter Chris Eksteen haar in die Noord-Gautengse hooggeregshof skuldig bevind het aan ’n reeks seksmisdade met drie kinderhuismeisies en drie jong vroue.
Hy het haar sewe jaar tronk toe gestuur.
Visser, wat op borgtog is, het in haar verhoor die skuld gepak op haar destydse minnaar en medebeskuldigde, oud-advokaat Dirk Prinsloo, deur aan te voer sy was onder sy mag en dat hy ’n seksuele sadis is.
Visser sê in die verklaring hoewel sy tussen reg en verkeerd kon onderskei, bewys die totaliteit van getuienis in die hof bo redelike twyfel “dat ek nie dienooreenkomstig kon optree nie”.
Sy sê die Wêreldgesondheidsorganisasie aanvaar die diagnose van mishandelde-vrou-sindroom (“battered woman syndrome”), maar dié sindroom is ’n “sambreelnaam” en sluit in die seksuele-sadis-sindroom, die inskiklike- slagoffer-sindroom, die meester-slaaf-sindroom en die Stockholm-sindroom in.
Die sindroom “sny deur die grense van intelligensie en intelligensie speel geen rol in dié verband nie,” sê Visser. Wat wel ’n rol speel, “is lae selfbeeld en naïwiteit”.
Sy voer aan sy is só deur Prinsloo gemanipuleer en gedwing dat toe dié dade wat die misdade daarstel gepleeg is, “ek nie ’n wil van my eie gehad het nie”.
Sy sê die hof het nie die “kumulatiewe” effek van al die sindrome in ag geneem nie. Dit moet beskou word as aanvullend tot mekaar. Dit het die magsoeker Prinsloo se ekstreme beheer oor haar vergroot.
Daar was ’n patologiese band met Prinsloo wat dikwels gevind word in vroue wat aan die sindroom ly.
Visser sê die hof het gefouteer deur nie haar “liggaamlike disintegrasie”, wat Prinsloo in ’n mindere mate by twee ander vroue teweeg- gebring het, in ag te neem nie. “Vir ’n vrou het my liggaam my hele persoonlikheid gesimboliseer.”
Sy sê twee kenners (vir die verdediging) het getuig Prinsloo het totaal beheer oor haar geneem.
- Die Burger