Balju van die hof vas vir belastingontduiking
2012-01-30 16:04
Durban – ‘n Balju van die hof is in Durban in hegtenis geneem nadat hy glo saam met ‘n sindikaat, wat pryse by veilings beïnvloed, gewerk het, het die polisie Maandag gesê.
“’n Balju van die hof en ‘n vermeende lid van ‘n sindikaat is in Durban in hegtenis geneem op aanklagtes dat hulle die inkomstebelasting- en BTW-wette oortree het,” het kol. McIntosh Polela gesê.
Die balju werk met veilings van eiendomme namens die banke, het hy gesê.
“Hy en ‘n lid van ‘n sindikaat het glo saamgesweer om pryse by veilings in hul guns te swaai deur korrupte en intimiderende optrede,” het Polela gesê.
Die ondersoek, wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die polisie geloods is, het gevind dat die verdagtes geld gemaak het deur eiendomme te koop en te verkoop, sonder om belasting te betaal.
“Die beraamde waarde in hierdie stadium is R40 miljoen. Die forensiese ondersoek rakende die bedrog en korrupsie is steeds onderweg.
“Hierdie inhegtenisnames is tans slegs in verband met die belastingwet.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA